Stad Kaapstad Toneelspelkompetisie lewer spelers vir KKNK-stuk

HEL OP HEMEL-EN-AARDE

Hierdie produksie is ‘n uitvloeisel van die Toneelspelkompetisie vir Hoërskoolleerders wat die afgelope 10 jaar deur die Hoërskool Bellville georganiseer word.  Die jong talent is tydens 2010 se kompetisie gekies en hulle speel saam met bekende akteurs soos Elma Postma (7de Laan en Boer soek ‘n vrou) en Ivan Botha (7de laan en Bakgat).  Die teks word geskryf deur die bekende skrywer Francois Bloemhof en Vicky Davis (Pasella en 7de laan) is die regisseur. Schalk Joubert verskaf die musiek.

Die tienerakteurs is Jacques Crafford, Chanelle Davids, Jan Fouché, Gershwin Mias, Alandri Morison, Alisah Schenck, Dean Smith, Mar-li van der Merwe en Leslie van Wyk.

Jare lank het die reeksmisdadiger Hansie Mowers, ook bekend as die “skim van die Overberg”, onrus in die Hemel-en-Aarde-vallei gesaai en die gemeenskap genadeloos geteister.  Hulle het geglo hy het bonatuurlike kragte.  Bedags kruip hy in die berge weg.  Steel hy, stroop en plunder hy.  Snags verander hy in ‘n swart kat.  Glip stil die huis binne en kom haal hul dogters…

Kom sny sy spoor stap-vir-stap.  Die gehoor word van een oord van onheil na ‘n volgende gelei, so trek jou stapskoene aan vir hierdie interaktiewe, ruimtelike ervaring op die plaas Jamstreet net buite Oudtshoorn.

Hierdie produksie speel by die KKNK vanaf 4 tot 8 April.  Daar is elke aand 2 vertonings, maar slegs 50 gehoorlede kan op die “toer” gaan, so bespreek betyds.

.