Mnr.Theron vier 40 jaar by Hoërskool Bellville!

Mnr. George Theron is verlede week spontaan en staande in die personeelkamer toegejuig terwyl ‘n glasie sjampanje aan hom bedien is. Mnr Theron is vereer omdat hy as onderwyser 40 jaar diens gedoen het by die Hoërskool Bellville. Voorwaar ‘n besondere prestasie wat min onderwysers hom kan nadoen.

Mnr Theron het sy onderwysloopbaan in 1967 in Griekwastad begin en dit voortgesit in 1969 aan die Hoër Tegniese skool in Kimberly soos dit destyds bekend gestaan het. In April 1974 word hy aangestel as onderwyser aan die Hoërskool Bellville, waar hy later ook as departementshoof aangestel is. Mnr Theron sê hy het onder 5 hoofde sy onderwysloopbaan by die Hoërskool Bellville voltooi (Mnre Kellerman, Van Staden, Lombard, Crous en du Plessis)

In 1999 het hy pakket geneem, maar is onmiddellik weer as beheerliggaam-onderwyser in 2000 by die Hoërskool Bellville aangestel. In 2012 het hy op die onderdom van 67 jaar amptelik en finaal afgetree.

Dit was egter nie die einde van sy onderwysloopbaan by die Hoërskool Bellville nie. In 2013 is hy aangestel  as die Oud- Bond koördineerder en argief-organiseerder. Die pos wat hy nog steeds beklee. ‘n Ongelooflike 40 jaar by die Hoërskool Bellville. Dit is maar net weereens ‘n bewys van die skool se strewe om tradisie en trots nie net by sy leerders nie, maar ook by sy onderwysers te laat voorleef.

Mnr Theron is getroud met Elna en het twee kinders, Hugo en Anel. Hy het ook vyf kleinkinders. Die Hoërskool Bellville  hoop om nog ‘n lang verbintenis met Mnr Theron en sy familie te hê.

.